Main menu:
Genealogie
Grondwet van die Bredenkamp Familiebond - Naam
Die naam van die vereniging is DIE BREDENKAMP-FAMILIEBOND – hierna later verwys as “die Familiebond”.
Die Familiebond is met regspersoonlikheid beklee, kan in eie naam dagvaar en gedagvaar word en of as Eiser of Verweerder in gedinge optree en kan al die handelinge verrig wat nodig is vir die bereiking van die doelstellings.
Grondwet van die Bredenkamp Familiebond - Doelstellings
In die algemeen sal die doelstelling wees om met die middele tot sy beskikking kontak tussen die lede van die Familiebond te handhaaf en uit te bou. Dit sal onder andere die volgende behels:
(i) Die bevordering van die samehorigheid en belange van die BREDENKAMP familie;
(ii) Die bevordering van trots in die Bredenkamp-familienaam en die verstewiging en instandhouding van sosiale en kulturele bande onder lede van die Bond;
(iii) Die sameroeping van gereelde familie-byeenkomste;
(iv) Die verspreiding van ’n Familiebond nuusbrief en die instandhouding van ’n familie-register;
(v) Die registrasie van ’n Familiebondswapen;
(vi) Die insameling van gelde, skenkings, bemakings en enige ander voordele te aanvaar van enige persoon of liggaam of uit watter bron ookal ter bevordering van bogenoemde doelstellings.
Grondwet van die Bredenkamp Familiebond - Lidmaatskap
Die volgende persone kan lidmaatskap verkry:
(i) Persone wat reeds die ouderdom van 18 jaar bereik het.
(ii) Die draer is/was van die Bredenkamp van en wie se ouers, voogde en/of eggenoot ’n direkte afstammeling is/was van die Bredenkamp-stamnaam.
Ten einde gemelde lidmaatskap te verwerf kan enige persoon wat aan bogemelde vereistes voldoen op die voorgegewe aansoekvorm om lidmaatskap van die Bond aansoek doen. Die bestuur sal die aansoek oorweeg en kan sodanige aansoek aanvaar, onderworpe aan enige geldige uitsonderings in die diskresie van die bestuur. Die bestuur sal besluit ten aansien van ’n eenmalige intreelidmaatskapfooi wat gemelde lid lewenslange lidmaatskap sal besorg.
Grondwet van die Bredenkamp Familiebond - Bestuur
(I) Die Sentrale Bestuur van die Familiebond sal onder andere bestaan uit ’n voorsitter, onder-voorsitter, sekretaris, tesourier en minstens 3 ander lede.
(ii) Die Sentrale Bestuur sal saamgestel word uit lede van die Familiebond op ’n wyse wat deur die bestaande bestuur bepaal sal word en sal dien vir ’n tydperk van drie jaar.
(iii) Drie lede van die Sentrale Bestuur sal ’n kworum vorm en die Voorsitter sal ’n beslissende stem op bestuursvergaderings hê. Aansoeke vir die stigting van Streeksbesture van die Familiebond kan aan die Sentrale Bestuur gerig word deur lede soos wat die behoefte onstaan.
(iv) Die bestuur sal gereelde familie-saamtrekke reël.
(v) Die bestuur sal die volgende magte hê:
(a) om die prosedure van ’n vergadering van die Familiebond voor te skryf;
(b) om addisionele lede tot die bestuur te koöpteer;
(c) in die algemeen te handel met fondse en/of eiendom van die Familiebond vir die doelstellings hierin uiteengesit waarvan behoorlik en volledig verslag bygehou word.
(d) om aksie in te stel en te verdedig ten behoewe van die Familiebond en vir daardie doel enige prokurasie te teken en ten uitvoer te bring;
(e) om die Bond se naam te laat registreer asook ’n familiewapen.
Grondwet van die Bredenkamp Familiebond - Ledegeld end Finansies
(i) Die Sentrale Bestuursvergadering kan ’n besluit neem ten aansien van ’n minimale jaarlikse ledegeld of eenmalige ledegeld in hulle diskresie. Gemelde gelde sal betaalbaar wees vanaf ouderdom 18 jaar tensy gemelde persoon nog nie voltyds werksaam is nie.
(ii) Die vergadering mag skenkings van lede, ander persone en instansies ontvang met dien verstande dat sodanige skenkings in ’n trustrekening inbetaal sal word en ooreenkomstig hierdie konstistusie beheer en bestuur sal word.
(iii) Die voorsitter sal ’n bankrekening vir die Familiebond by ’n erkende bank of ander erkende finansiële instelling open en allegelde of bates wat die Bond ontvang op genoemde rekening inbetaal.
(iv) Volledige rekords van alle gelde en bates van die Bond moet gehou word.
(v) Enige lid van die Bond of ander belanghebbende persoon (na bewys van ’n regverdige belang) is geregtig om te enige tyd insae te hê in die boeke en ander state van die Bond en navrae oor ’n in- en uitbetalings van gelde of handelinge met ander bates van die Bond te doen.
(vi) Die voorsitter sal ’n volledige verslag van die finasiële sake van die Bond aan alle lede op ’n jaarlikse basis sirkuleer en verslag doen.
(vii) Die aanwending van fondse van die Bond sal bestuur word deur die bestuur vir uitsluitlik die doeleindes hierin vasgestel. By ontbinding van die Familiebond, op watter wyse ookal, sal die lede van die Bond by meerderheid stem besluit hoe die bates en gelde van die Bond aangewend sal word.
Grondwet van die Bredenkamp Familiebond - Wysiging
(i) Hierdie konstitusie mag gewysig word op voorstel van ’n lid van die Familiebond nadat skriftelike kennisgewing van die voorgestelde wysiging deur die Sentrale Bestuur aan alle lede gestuur is.
(ii) ’n Meerderheid van die lede wat daarop reageer moet voor ’n gegewe datum hulle goedkeuring vir die voorgestelde wysiging skriftelik bevestig en die bestuur daaromtrent inlig.
Grondwet van die Bredenkamp Familiebond - Algemeen
(i) Geen bestuurslid of ampsdraer van hierdie Familiebond sal enige Inkomste ontvang vir sy dienste aan die gemelde Bond nie, behalwe vir wettige verrekende uitgawes aangegaan in belang van die Familiebond.
(ii) Alle bates van die Familiebond sal gevestig wees in die Sentrale Bestuur van die Familiebond.
Die Bredenkamp familiebond grondwet
ONDERTEKEN op 4 Mei 2002 te ORYX EKOPARK, PRETORIA
Deur:
1. Adv BEN BREDENKAMP
2. IG BREDENKAMP
3. EMMA BOOTH (BREDENKAMP)
4. Oom FRIKKIE BREDENKAMP
5. MARTHIE BREDENKAMP
6. JANNIE BREDENKAMP
7. HENNIE BREDENKAMP
8. SARIE BREDENKAMP
9. GERT BREDENKAMP
10 PIETER BREDENKAMP
Alle Regte Voorbehou 2008 - Bredenkamp Bond Suid Afrika