Main menu:
Welkom by die Bredenkamp Bond se webwerf.
JONGSTE NUUS -- BREDENKAMP FAMILIEBOND
Die Bestuurskomitee van die Bredenkamp Familiebond nooi alle lede van die Bredenkamp-familie (ook aangetroudes en naasverwante lede) na 'n feestelike familiesaamtrek, waarby daar heerlik saamgekuier, nuuswaardighede uitgeruil en familie-fotos geneem gaan word en vleis gebraai gaan word.
Wanneer: Saterdag, 11 September 2010
Waar: Huis van Ben Bredenkamp, Donovanstraat 103, Glen Austin, Midrand, Gauteng, S.A (GPS ko-ordinate: X28.139222, Y25.979640)
Tyd: 10h00 - tot laat.
Toegang: Gaste word gevra om donasies ter vergoeding van personeel by te dra.
Gaste bring hul eie piekniekmandjies vir die bring-en-braaifunksie saam, met vleis, slaaie en eetgerei, gunsteling vloeibare verversings, opvoustoele en -tafels. Die Komitee verskaf pap-en-sous, braaivure en 'n beperkte aantal roosters.
Indien gaste oor interessante familiefotos of aandenkings beskik, word hulle versoek om dit met die familie te kom deel. Gaste word ook versoek om hul musiekinstrumente saam te bring vir vermaak. Slegs kort toesprake word voorsien.
Indien u die dag saam met die familie wil deurbring, bevestig asseblief by Elize Pieterse (neè Bredenkamp) by selnr. 071-660-5144.
Die strewe van die BREDENKAMP Familiebond is om nie slegs 'n stamboom, kwartierstaat of familieregister op te stel nie, maar die dokumentering van die kultuurgeskiedenis van die familie en spesifieke takke daarvan op te stel gebaseer op spesifieke verwysingsbronne, feite en dokumentasie.
Voorgeskiedenis van die BREDENKAMP Familie in Suid-Afrika.
Johannes Christoffel BREDENKAMP (ook in vroeë V.O.C. dokumente vermeld as Johan Cristoffel Breijdenkamp) is in 1739 gebore te HERFORD in Oos-Wesfale, ‘n destydse Pruisiese provinsie. Die spesifike geboorteplek is waarskynlik Plaas No.12 Klosterheide, Stift Quernheim wat ongeveer 10 km vanaf Herford geleë is.
Hy is gedoop in die Lutherse Evangeliese Kerk – waarskynlik die Stiftskirche wat minder as 1 km van die BREDENKAMP plaas af geleë is.
Die bevolking van Oos-Wesfale en Nieder-Sachsen was grootliks van eg Duitse afkoms (Teutonic Stock) met ‘n klein persentasie van Duits Russiese afkoms.
Die BREDENKAMPS was in Duitsland sedert 1520 tydens die Hervorming en die opkoms van Protestantisme grotendeels betrokke by die Lutherse Evangeliese Kerk, tot vandag toe.
In Duitsland, in die jare 1700 tot 1800, is feitlik al die BREDENKAMP, Breitenkamp, Breitenkampf, Breedenkamp, Breedekamp, Bredenkamps, Bredekamp, Breitonkamp en nog ander variasies van die van in die Evangelies-Lutherse kerk in die omgewing van die volgende dorpies gedoop: Bergholz, Bunde, Blasheim, Badbergen, Bielefeld, Gehlenbeck, Grothe, Herford, Huell-posst, Klosterbauerschaft, Minden, Rödinghausen, Vlotho, Quernheim.
Die betekenis van die van BREDENKAMP is, in Duits, ‘n pleknaam wat beteken “breë veld” (kamp of kampus). Daar is ook ‘n straat met die naam “Bredenkamp’s-Feld” in die plattelandse dorpie Klosterbauerschaft, gemeente Stift Quernheim, langs Kirchlengern naby Herford. Plaas No 12 in Klosterheide, Stift Quernheim is in besit aan die BREDENKAMP’S sedert ongeveer 1500. Seuns van die plaas het in die jare 1700’s aangesluit by die Verenigde Oost-Indiesche Kompanjie (V.O.C.).
Die vanne Bredenkamp, Bredekamp en Breedenkamp in Suid-Afrika en so ook ander variante is volgens ons navorsing afstammelinge van Johannes Christoffel Bredenkamp.
Op 24 jarige leeftyd het Johannes Christoffel in Amsterdam as soldaat by die V.O.C. aangesluit en as soldaat No 329 vertrek hy op 3 Junie 1763 na die Kaap die Goeie Hoop aan boord van die seilskip “Leckerland”.
Die “Leckerland” gooi anker in Tafelbaai en Johannes Christoffel stap aan wal op 24 September 1763.
Gedurende 1764 tot 1778 was Johannes Christoffel Bredenkamp steeds ‘n amptenaar in diens van die Verenigde Oost-Indiesche Kompanjie (later Hollands Oos Indiese Kompanjie). Hy is op 8 Desember 1771 getroud met Anna Coetzee (op 21.04.1753 gedoop Johanna Jacoba COETSEE). Sy was die twaalfde kind van Cornelis Coetsee (Couchè) en tweede kind van sy tweede vrou Aletta Lubbe.
Cornelis was die seun van Dirk Coetsee en Sara Jacobz van der Schulp van Kampen in Nederland. Dirk Coetzee het in 1679 in Suid-Afrika aangekom. Hy woon eers vier jaar in Kaapstad en daarna tot 1729 op Stellenbosch waar hy in 1682 van Simon van der Stel, die bekende plaas Coetzenberg, as eiendom ontvang het. Hy het ook grond in Jonkershoek gehad - “Assagai Bosch” genoem. In 1687 is hy as Heemraad en in 1706 as Kaptein van die Stellenbosch infanterie aangestel.
Op 8 Desember 1778 het Johannes Christoffel Bredenkamp sy Vryburgerskap verkry en op 8 Februarie word hy landbouer te Roodezand, Land van Waveren (Tulbagh).
8 April 1780 Johann Christoffel BREDENKAMP verkry 'n permit op 'n "legplaats" -'…….klip" aan die Vogelrivier in die Camdebo. 20 April 1784 Johannes Frederik BREDENKAMP word die "legplaats" De Bril aan die Vogelrivier - suidekant van Bruintjieshoogte (Pearston - Oos Kaap) toegeken a1b3 was toe slegs 7jaar 6 maande oud.? 20 November 1786 Opseggingsbrief t.o.v. die "legplaats"
Hy en sy gesin van 7 of 8 kinders op daardie stadium trek terug na Caledon. Koop op 'n publieke veiling op 31 Oktober 1787 "Roodebloemskraal" uit die boedel van Wessel WESSELS en verkoop dit in 1823 aan Kol William Holmes DUTTON (Volle besitreg is eers in 1830 ingestel)Op 8 November 1787 verkry hy die regte om as landbouer en veeboer te boer aan die “Steenboksrivier”.
Hy is op 24 Desember 1801 oorlede en is vermoedelik op“Roodebloemskraal” aan die Steenboksrivier of in Tesselaarsdal of Solitaire omgewing begrawe.
Anna Coetzee is op 2 Mei 1828 deur die Engelse Goewerneur aan die Kaap vir die vrylating van haar slawe Mina, Simon, Maria, Thinus, Robert, Dina, Abraham en Salomon aangeskryf. Sy was toe reeds 75 jaar oud en steeds woonagtig te Roodebloemskraal waar haar seun Jan Christoffel geboer het.
Johannes Christoffel BREDENKAMP en Johanna Jacoba COETSEE het twaalf kinders gehad – 5 seuns en sewe dogters en het ‘n groot nageslag aan die Kaap en in Suider Afrika gelaat, soos uit die stamboom wat hierna volg afgelei kan word.
Handtekening van Johannes Christoffel Bredenkamp.
Kinders van Johannes Christoffel Bredenkamp:
B1 Aletta Henrietta * 28.02.1773
B2 Jan Christoffel ~ 22.11.1774
B3 Jan Frederik * 13.10.1777
B4 Johanna Magdalena Catharina ~ 06.12.1778
B5 Maria Elisabeth ~ 03.12.1780
B6 Martha Cornelia ~ 18.11.1782
B7 Cornelis Christoffel Lodewijk (Lodewyk) * 11.06.1784
B8 Barend Godfried ~ 19.11.1786
B9 Maria Elizabeth ~ 11.01.1789
B10 Jan Christoffel ~ 00.00.1790
B11 Anna Magdalena * 23.02.1794
B12 Johanna Wilhelmina ~ 23.10.1797
Opgedateer op 23 Augustus 2010