Main menu:
NUUS > Nuus Briewe > 2002
Nuusbrief - 1/2002
( Download in MS Word Formaat)
BREDENKAMP SAAMKUIERDAG EN FAMILIEWAPEN
Aan al die Bredenkamps ‘n hartlike groet!!! Mag 2002 vir ons deur Sy genade en onder Sy seënende hand ‘n mooi en voorspoedige jaar wees en ons aan die einde van elke dag kan getuig.“ Die Here is my herder, ek kom niks kort nie”
In hierdie nuusbrief wil ons net oor twee sake met u gesels – en ons hoop u gaan die komitee se entoesiasme deel. Lees gerus:
1. Die Bredenkamp familiewapen.
Die komitee van die BREDENKAMP familiebond het vandat die Bond onder leiding van Oom Frikkie tot stand gekom het hom beywer om ‘n saambindende familiewapen te probeer opspoor. Ander prioriteite en ‘n algehele gebrek aan inligting in enige R.S.A. Heraldiese dokumentasie het ons lank gepootjie.
Tydens Hennie Bredenkamp se besoek aan Quernheim Duitsland in September 2001, was die item “ Familiewapen ” ‘n hoë prioriteit. Sy opdrag was om te verseker dat ons alle detail van familie-wapens, gebiedswapens en stadwapens in die omgewing bekom sodat die komitee verder daaraan kan werk. Dorpswapens van Herford en Quernheim en Bunde is verkry. Die Quernheim wapen – slegs ‘n skild met die drie-akker motief in groen op `n wit agtergrond - het groot ondersteuning van die Staatsheraldikus en die komitee geniet - veral die drie-akker motief.
Soos die voorsienigheid dit wou hê het Hennie vir Horst en Christa BREDENKAMP na Sondagmiddagete op 9 September 2001 in die hotel in Oberbauerschaft ontmoet.
Na ‘n lekker kuier is hulle na hulle huis in 20 Bunderstrasse om verder foto’s en dokumente te vergelyk en op sy voordeur pryk toe ‘n wapen, toegeken aan die BREDENKAMP’S en die bewyse is op rekord. Die enigste “offisiële” dokumentasie wat tot dusver opgespoor kon word is die wapen soos op 25.08.1936 bevestig aan Heinrich BREDENKAMP (Jnr.) deur die Duitse Regering. Hierdie wapen is ‘n skild met ‘n B horisontaal (soos twee piramides) in die boonste gedeelte en breë (BREDEN) wit veld (KAMP) in die onderste gedeelte. Die B is in goud op ‘n blou agtergrond en pas pragtig aan by ons blou hemelruim (Uit die blou van onse hemel)
Die eenvoud van die wapen, ‘n eenvoudige skild sonder fieterjasies, pas ook aan by wat ons reeds weet van ons voorgeslagte in Suid-Afrika. Die Bredenkamp voorgeslagte het gewoonweg ‘n integrale deel geword van die veelheid en verskeidenheid van die gemeenskapslewe in hierdie land en ons kan met deernis en agting aan hulle dink en uit hul lotgevalle en godsdiens vastheid put. Die huidige geslagte in Suid-Afrika en Duitsland het baie stof tot dankbaarheid.
Volgens Marcel van Rossum , die R.S.A. assistent Staatsheraldikus, mag ons nie ‘n algemene wapen registreer wat deur alle R.S.A. BREDENKAMPS gebruik kan word nie. Wetgewing hieroor is baie ingewikkeld maar duidelik.
‘n Beter opsie is om ‘n wapen vir die “BREDENKAMP FAMILIEBOND” as regsentiteit te registreer. Die lede kan dan die oorkoepelende wapen gebruik sonder verdere ontwerp en individuele koste.
Ons voorgestelde basiese Familiebond wapen is ontwerp met die verbintenis met Quernheim as basis - die drie akker embleem wat so goed inpas by ons Suid-Afrikaanse oorsprong tussen die eikebome van Tulbagh en Caledon. Die drie akkers versinnebeeld ook die Drie Eenheid en Groei. Ons glo dat dit die beskikking van die Drie enige God is wat die Bredenkamps met ‘n roeping hier aan die suidpunt van Afrika gevestig en laat groei het.
Daar kan ook ‘n “scroll ” of voetskrif onderaan aangebring word wat ‘n leuse aandui. Geen van is toelaatbaar nie, maar kan as opskrif apart aangetoon word. Die bewoording van ‘n leuse of slagspreuk is oop vir bespreking, maar die drie woorde “Geloof – Hoop – Liefde – is na oorweging van verskillende voorstelle as ‘n baie toepaslike moontlikheid deur die komitee aanvaar vir voorlegging aan die Bredenkamps wat in die Familiebond belangstel.
Die komitee het besluit op die leuse-rol onderaan die wapen om aan te sluit by die drie-akker emblem met die drie onverganklike woorde wat ons voorsate se en ons eie lotsbeskikking die beste beskryf en tot onderskraging van ons nageslagte kan dien wat met GELOOF, HOOP EN LIEFDE hul lotsbestemming sal kan uitleef.
Die basiese Familiebond - wapen is nie ‘n spesifieke familie of vertakking se wapen nie, maar kan daarna as basis gebruik word vir enige BREDENKAMP familie / gesin of individu om ‘n eie wapen te ontwerp en te registreer. So ‘n wapen is dan oorerflik na die oudste seun en sy nageslag, maar tans kan die ander kinders ook die wapen ook so aanvaar.
Die Familiebond-wapen is dus die wapen wat gebruik sal word deur individue wat daarop aanspraak kan maak dat hulle lede van die Bond is en die wapen sal na registrasie byvoorbeeld op ons nuusbriewe en webwerwe voorkom.
Met die Staatsheraldikus se hulp en raad het ons ‘n tegnies verantwoordbare (binne die betrokke wetlike bepalings) wapen daargestel wat geregistreer kan word.
Hierdie konsepwapen word hieronder afgebeeld.
BREDENKAMP FAMILIEBOND
Die konsep word aan u deurgegee vir kommentaar. Ons vertrou dat die gedagte van ‘n
Familiebond wapen met entoesiasme aanvaar sal word en u word uitgenooi om te reageer. Stuur asseblief u kommentaar aan:
Marthie Bredenkamp
Knysnalaan 282
Sinoville
Pretoria
0182
Tel nr: 012 543 0860
Faks: 012 543 0860
E-Pos: bredenm@intekom.co.za of marthie@bredenkamp.co.za
Meld asseblief u naam en adres waar ons u kan skakel.
Na aanleiding van u kommentaar sal die komitee die konsep finaal oorweeg en in
samewerking met die Staatsheraldikus sal ‘n volledige heraldries-korrekte beskrywing van die wapen opgestel en geregistreer word vir bewaring in die Argief en vir verspreiding aan almal wat belangstel.
Die Familiebond wapen gaan een van die bakens wees op die pad van die Bredenkamps in die RSA - dis die komitee se wens en oortuiging!!!
2. SAAMTREK KUIERDAG IN PRETORIA
Verlede jaar se baie aangename saamkuierdag by ORYX EKO PARK net buite Pretoria is so geniet dat ons voordurend navrae gekry het oor wanneer ons weer so ‘n dag reël.
Nou die verrassing. Ons kuier weer saam op dieselfde plek op Saterdag 4 Mei 2002 vanaf 9:30 die oggend.Hierdie keer maak ons dit ‘n bring en braai piekniekgeleentheid – U eie vleis en ander eetgoed en drinkgoed en eetgerei en stoel of kombers om op te sit, maar ons sal pap en sous en kookwater voorsien en natuurlik die vure vir die vleisbraai.
Ons verwag dat almal wat verlede jaar daar was weer sal kom as dit enigsins moontlik is, maar ons wil veral vir almal wat nog nie daar was nie, BAIE HARTLIK EN VRIENDELIK UITNOOI. U sal die aangename omgewing en samesyn en kuier geniet en sommer ‘n klomp “ familielede ” ontmoet. Merk solank 4 Mei 2002 op u almanak en as u wil weet hoe om daar te kom skakel asb. vir Marthie en sy sal vir u die padaanwysigings voorsien.
Natuurlik is nie net die Pretorianers welkom nie, maar ALMAL waar ookal u woon is hartlik welkom!!! Ons kuier tot so 15:30 se kant.
MOENIE DIE AANGENAME GELEENTHEID MISLOOP NIE.
Tot ‘n volgende keer as ons weer nuus het groet ons u van huis tot huis.
Pieter Bredenkamp
Namens die Komitee
Komiteelede:
Marthie Bredenkamp Tel: (012) 543 0860
Frikkie Bredenkamp Tel: (012) 440 2632
Pieter Bredenkamp Tel: (012) 547 4202
Hennie Bredenkamp Tel: (011) 701 3420
Gert en Sarie Bredenkamp Tel: (011) 673 1542
Jannie Bredenkamp Tel: (012) 543 0860
PS. Asseblief, gee die nuusbrief deur na familie ander Bredenkamps wat julle ken.