Main menu:
Nuus Argiewe > 2001
Nuusbrief - 1/2001
TER INLEIDING - ( Download in MS Word Formaat)
Met die draai van die millennium is daar ook sommer ‘n ontwaking en entoesiasme onder die Bredenkamps!!! Oom Frikkie Bredenkamp wat jare gelede begin navorsing doen het en ‘n boekie saamgestel het met inligting oor die geslagsregister asook foto’s en interessante nuusbrokkies daarin, het ‘n paar ander Bredenkamps betrek en die Bredenkamp Bond het ontstaan. Daadwerklike verdere navorsing en insameling van inligting is tans aan die gang en heelwat familie gegewens en ander interessante inligting is reeds van enkele Bredenkamps oor die hele RSA en selfs uit Zimbabwe ontvang. Terloops: Sovêr ons weet was daar nog net vanaf 11-14 April 1968 ‘n familiesaamtrek van die Bredenkamps en wel by Kroonstad.
Tans is ‘n Komitee saamgestel wat gereeld bymekaarkom om inligting te evalueer en te koördineer ten einde ‘n omvattende verslag van die familiegeskiedenis van die Bredenkamps saam te stel. Een van die ywerige medewerkers is Hennie Bredenkamp, wat lid van die Genealogiese Vereniging van Suid-Afrika is. Sy ideaal is dat daar nie slegs ‘n stamboom of familieregister saamgestel sal word nie, maar dat die kultuur-geskiedenis van die Bredenkamp familie uiteindelik in gedrukte vorm sal verskyn. Elders in die nuusbrief verskyn ‘n eerste berig oor die heel vroeë geskiedenis van die stamvader Johannes Christoffel Bredenkamp wat op 24 Desember 1763 by Kaap die Goeie Hoop aan wal gestap het.
‘n Ander besondere persoon wat baie van haar tyd en energie aan hierdie belangrike taak bestee is Marthie Bredenkamp. Sy lewer ‘n uiters waardevolle bydrae deur met behulp van die Internet met verskeie ander navorsers en Bredenkamps regoor die wêreld te kommunikeer. Sy was ‘n nooi Strydom en is in 1978 met Jan Christiaan Bredenkamp getroud. Van haar skooldae af het sy besonder belanggestel in lees en veral geskiedenis. Sy is deur en deur ‘n familiemens en sê self: “Daar was nog altyd ‘n belangstelling om my familie bymekaar te hou en ‘n familiealbum aan te vul en op datum te hou”. Omdat sy met ‘n Bredenkamp getroud is het sy in dié se familiegeskiedenis en stamboom begin belangstel en toe met Oom Frikkie kennis gemaak.
Sy het saam met hom begin werk om die data wat hy oor al die jare versamel en opgebou het, by te werk en te verifieer. Saam vorm Oom Frikkie, Hennie en Marthie ‘n gedugte span wat besig is om dinge te laat gebeur.
Daar wag INTERESSANTE inligting wat geen Bredenkamp mag misloop nie.
Die Komitee se werksaamhede onderbreek om ‘n foto te neem!
Staande: vlnr. Jannie, Thomas, Hennie en Pieter Bredenkamp en Raymond Phillips.
Sittende: vlnr. Marthie en Oom Frikkie Bredenkamp en Anne Phillips (neé Bredenkamp).
Annemari Coetser die dogter van Oom Frikkie, sekretaresse van die komitee was afwesig toe die foto geneem is.
WAT BEHELS SO ‘N PROJEK OM DIE KULTUURGESKIEDENIS SAAM TE STEL?
Onder meer word belangrike navorsing gedoen by argiewe, biblioteke, kerke, museums, begraafplase, waar belangrike inligting verkry word. Gesprekke met persone in ‘n bepaalde omgewing vind plaas met familielede of ou inwoners ens. Ons het selfs medewerkers in die stamlande soos Duitsland en Nederland. Die gebruik van die jongste elektroniese en kommunikasiemedia is onontbeerlik. Deur middel van Internet en E-pos ensovoorts kan ons inligting van oral opspoor en ontvang.
Marthie was van die dertiende Desember 2000 tot die tiende Februarie 2001 in die Kaap in die omgewing van Caledon (die bakermat van die Bredenkamp familie) en tot in die Kaap waar sy in die argief gewerk het. Die Komitee het ‘n hand skandeerder aangekoop sodat sy doeltreffend kan werk en op die jongste vergadering het ons verslag ontvang dat sy 1015 bron dokumente onder oë gehad het en met die hand skandeerder duisende bladsye inligting op stiffies kon plaas en in die rekenaar stoor vir verwerking.
ONS WIL GRAAG ‘N BEROEP OP U DOEN!!!
Die taak kan nie volvoer word sonder die samewerking van elke Bredenkamp nie!! Dit is belangrik om kontak te maak met Bredenkamp families in die RSA en buurstate (ook diegene wie se nooiensvan Bredenkamp was). Elkeen van u het ‘n waardevolle skat van inligting en nuus oo families en gesinne wat die hele legkaart of “weefstuk van Bredenkamp kultuurgeskiedenis” iets besonders sal maak!
Daarom vra ons vriendelik: word asseblief ‘n Medewerker en laat hoor van u. Ons is oortuig dat u trots is op u eie familie en veral vader en moeder, oupa en ouma en groot-oupa en –ouma. Vertel ons asseblief wat hulle name is en dié van hulle kinders (geboortedatums, en met wie hulle getroud is en troudatums en ook datums wanneer hulle oorlede is).
Vertel ons van interessante gebeurtenisse en erfgoed wat in u besit is nie slegs meubels ensovoorts nie, maar ook van elke klein ietsie wat tog vir u kosbaar is - miskien ‘n ou foto!! Wees asseblief deel van die poging - u gaan uitvind hoe interessant dit word!
U kan Marthie Bredenkamp kontak by:
E-pos: bredenm@intekom.co.za of marthie@bredenkamp.co.za
Posbus: Knysnalaan 282
Sinoville
PRETORIA
0182
Telefoon/Faks: (012) 543 –0860
U kan ook skakel met:
Frikkie Bredenkamp Tel: (012) 440 2632
Pieter Bredenkamp Tel: (012) 547 4202
Hennie Bredenkamp Tel: (011) 701 3420
Thomas Bredenkamp Tel: (012) 329 2412
EN NOU: DAAR DOER IN DIE GESKIEDENIS
(Enkele flitse uit die navorsing van Marthie en Hennie Bredenkamp)
Die oorsprong van die van is Duits: BREITENKAMP en dui op ‘n pleknaam wat beteken breë veld of kamp of kampus. Die naam verskyn ook as Breitenkampf, Breitonkamp, Breedenkamp, Breedekamp, Bredenkamp, Bredekamp.
Tussen die jare 1650-1800 in Duitsland is feitlik al die kinders met bogenoemde vanne in die omgewing van dorpies soos Herford (ongeveer 80 km suidwes van Hanover) Bielefeld, Bünde, Löhne, Peissen, Klosterbauerschaft gebore en deel van die Lutherse Evangeliese Kerkgemeenskap. Interessant: Daar is selfs ‘n klein dorpie in Duitsland met die naam Bredenkamp wat 65 km van Herford, suid van Hanover geleë is. Ook ‘n Bredenkamp plein in Berlyn.
Daar is ook ‘n plaas met die naam “Bredenkamps Feld” in die klein plattelandse dorpie Klosterbauerschaft, gemeente Stift Quernheim, naby Herford. Die plaas behoort nou aan die “Stift Quernheim” - ‘n soort kerkstigting. Bredenkamps is steeds woonagtig daar. In die genealogiese kerkrekords van die Bredenkamp plaas (Stift Quernheim Akte 168(a)bls 22) word die eerste geslag wat die van gedra het, aangedui as Johann Heinrich Colonus [Farmer at] BREDENKAMP FELD [Farm]. (Dit dui waarskynlik op “kolonis” as iemand wat ‘n gebied besit en bewoon en bewerk met ander woorde kolonialiseer.)
Hy is gebore tussen 1672 en 1697 (rekords is skraps en onvolledig) en oorlede in 1729. Sy vrou se naam was Agneske. Dit word deur spekulasie geïnterpreteer dat sy seun ook Johan Heinrich Bredenkamp was, wat op 30 Oktober 1737 getroud is met Margaretta Ilsabein Schluetters en wat in 1762 oorlede is. Die navorsing duur voort maar dit mag wees dat een van sy kinders Johann Christoffel Bredenkamp (gebore 1739 in Herford) die stamvader van die Bredenkamps in Suid-Afirka, Namibië en Zimbabwe is. (Die name Johan en Johannes word dikwels in dokument tot dokument afgewissel).
WAAROM SOU HY UIT DUITSLAND GE-EMIGREER HET?
Nadat Frederick die Grote II [1712-1786] aan bewind gekom het in Pruise was daar groot hoogtepunte in Duitsland maar as gevolg van sy magsbeheptheid was daar ook die sewejarige oorlog van 1756-1763 wat Europa verwoes het. Die geskiedenis wil dit hê dat tot 60 000 soldate in een enkele veldslag gesneuwel het.
Na die oorlog het Frederick die Grote swaar belastings op sy burgerlike onderdane gelê vir die opbou van Duitsland. Armoede, ellende, uitsigloosheid en ‘n gevoel van hooploosheid het hoogty gevier.
As 24 jarige jongman, aan die einde van die oorlog in 1763, het Johannes Christoffel Bredenkamp sy vaderland en familie verlaat en by die Verenigde Oost Indische Compagnie ook bekend as VOC, aangesluit.
So word soldaat No 329 op die betaalstaat van die VOC seilskip “Leckerland” (Lekkerland) geregistreer as Johann Christoffel Breijdenkamp van Herford Zole teen ‘n loon van 9 gulde per maand en ‘n lening van 250 gulde vir uniform en toerusting.
Die “Leckerland” het op 3 Junie 1763 vertrek en hierdie 24 jarige Duitse soldaat was sekerlik nie bewus dat Hy wat die gang van die geskiedenis beheer so beskik dat hy stamvader sou word van ‘n nageslag van BREDENKAMPS aan die suidpunt van Afrika nie. Hy het op 24 Desember 1763 voet aan wal gesit aan Kaap die Goeie Hoop en hier agtergebly weens “ongesteldheid” terwyl die “Leckerland” verder gevaar het.
Hy was tot 1778 ‘n amptenaar en plaasarbeider in diens van die VOC aan die Kaap en is intussen op 8 Desember 1771 getroud met Johanna Jacoba Coetzee (Couche).
Op 8 Desember 1778 het hy ‘n Vryburger geword en op Februarie 1780 word hy landbouer te Roodezand (Tulbagh). Hy boer daar en verkry verdere grond op permit basis vanaf 22 November 1786. Die plaas was genoem “De Bril” langs die Vogelrivier en aan die suidekant van Bruintjies Hoogte. Dit blyk in die omgewing van die huidige Voëlvleidam in die Vogelrivier naby Gouda te wees volgens die grondbrief.
Volgende keer meer oor sy huwelik en nageslag.
TEN SLOTTE
Ons wil graag dat die Bredenkamps mekaar ontmoet en ‘n keer lekker saamkuier - sommer so informeel in die eie omgewing. Sal iemand nie die inisiatief neem in Pietersburg en elke ander dorp - kyk maar na die name in die telefoongids. Reël asseblief so ‘n kenmekaar en laat weet vir ons van die interessanthede wat plaasgevind het. Ons sal graag so mettertyd daarvan in die Nuusbrief melding maak.
Vir die Bredenkamps in en om Pretoria - selfs tot in Johannesburg, Oos Rand, Vaaldriehoek, Delmas, Brits, omgewings rondom Pretoria en selfs ander provinsies as hulle in ons omgewing kuier, word so ‘n piekniek saamtrek gereël vir Saterdag 21 April 2001 op ‘n plaas buite Pretoria. Dit is by ORYX EKO PARK net verby MOOIKLOOF wat met die verlenging van Garsfonteinweg verby PRETORIA OOS HOSPITAAL bereik kan word.
Ons nooi al die Bredenkamps met hulle gesinne uit om 10:00 die oggend saam te kom by die lapa, ligte verversings te geniet en saam te kuier. Teen 12:00 gaan ons lekker braaivleis, pap en sous eet met slaaie en broodjies.
Eie drink goed en eetgerei kan julle saam bring asseblief.
Daar is daarna geleentheid om nog verder te ontspan - daar is ‘n swembad vir die kinders en ‘n plaasdam. Diegene wat wil kan gaan stap met wandelpaaie tussen die wild in die wildkamp en dié wat verkies kan teen R20,00 per persoon met die Landrover op ‘n wildsbesigtigingsrit gaan. Dié wat kan perdry kan die wild te perd gaan besigtig teen R50,00 per persoon. Kom geniet die piekniek, kuier saam as Bredenkamps en ontspan as gesinne.
Vir diegene wat ons voor die 18de April laat weet dat hulle kom en hoeveel persone dit sal wees, bied ons die verversings en ete aan teen R25,00 per persoon. Diegene wat na die 18de besluit om te kom is steeds baie welkom maar hulle moet dit asseblief as ‘n bring-en-braai beskou.
Kontak Pieter Bredenkamp Tel / Faks: 012 547 4202 of Thomas Bredenkamp Tel : 012 329 2419 in verband met die Pretoria saamkuier:
Bredenkamp groete (of soos hulle altyd gesê het: groete van huis tot huis!!)
Namens die Komitee: Saamgestel deur Pieter Bredenkamp.
Eerste druk gereël deur Marthie Bredenkamp.