bredenkamp.co.za


Go to content

Nommer 2

NUUS > Nuus Briewe > 2003

NUUSBRIEF NR 2/2003

1. TER INLEIDING.

Ons groet al die BREDENKAMPS en vertrou dat hierdie nuusbrief andermaal 'n entoesiasme vir ons familiebond maar veral vir mekaar as Bredenkamps sal aanwakker en uitbou.

Navorsing en bewaring van Families se geskiedenis beleef tans 'n ongelooflike en ongekende opbloei en entoesiasme.

Waarskynlik moedig die huidig bestel in ons land dit indirek aan. Die koestering van ons erfenis, te wete, ons Godsdiens, waardestelsel, kultuur en taal en die oordrag daarvan aan ons nageslagte behoort 'n selfopgelegde prioriteitstaak van elke individu te word

Die mens wat die pad ken waarlangs hy vandaan kom het ankers en vlerke wat hom in staat stel om daarmee die toekoms te bou!! As ons as families en individue nie met deernis en dankbaarheid kennis neem van ons voorgeslagte en hulle wedervaringe en dit bewaar nie - as ons toelaat dat dit in die vergetelheid verdwyn - sal latere selfverwyt ons nie baat nie omdat 'n bepaalde leegheid nie herstel kan word nie

2. DIE GENEALOGIESE GENOOTSKAP VAN SA.

Die Noord-Transvaal Tak het 'n ope dag gehou op 13 September 2003. Marthie Bredenkamp was baie betrokke en het saam met Hennie Bredenkamp 'n interessante uitstalling met betrekking tot die BREDENKAMP Familiebond daar aangebied. In die maandelikse Nuusbrief van September 2003 word soos volg deur die Genealogiese genootskap se Tak berig:-

"Die navorsing wat die Bredenkamps oor hulle familie gedoen het is inderdaad indrukwekkend. Daar is duidelik oor baie jare veel werk ingesit, met uitvoerige verwysings ook na die Bredenkamps in Duitsland"

3. "EINE REISE IN DIE VERGANGENHEIT".

Die berig het verskyn op die Neue Westfaalse Internet en in die plaaslike koerante aldaar op 3 September 2003.

Vir Horst en Christa Bredenkamp van Oberbauerschaft in Duitsland het 'n lank gekoesterde ideaal werklikheid geword, toe hulle vroeër vanjaar Suid Afrika besoek het. Hulle was veral verras om in die telefoongidse soveel Bredenkamp vanne te lees. Hennie Bredenkamp het hulle in die Kaap vergesel en hulle het ook ander Bredenkamps ontmoet, onder andere Dr Pierre Bredenkamp en Johan Bredenkamp, Hennie se broer.

Die oorsprong van die Bredenkamps in Suid-Afrika is juis Klosterbauerschaft waar die Bredenkamps vandag nog teenwoordig is. In die huis waarin Horst se vader gebore is het ook Johannes Christoffel waarskynlik in 1739 die eerste lig gesien.

In hierdie verband het ons ook in e-pos ontvang van Werner Bredenkamp uit die Rhynvallei wat vertel dat hy in 1954 in Klosterheide, 53 Klosterbauerschaft, gebore is - die woning wat ook op ons webblad verskyn. Die huis en die Skrynwerkfabriek het aan sy oupa Wilhelm behoort en is nog steeds in sy neef, 'n Bredenkamp se besit en is geleë op die oorspronklike Plaas No. 12..

Terloops Horst en Christa was aangenaam verras om op die landkaart van Suid-Afrika soveel dorpe met Duitse oorsprong te vind onder andere: Heidelberg, Berlyn, Hanover en Frankfort.

4. 'N BREDENKAMP TROFEE!

Van ene Willie du Plessis het ons 'n baie interessante brokkie nuus verkry. Dit handel oor die Krugersdorp se Kameraklub wat 'n trofee het wat geskenk was deur Wyle Ben Bredenkamp en wat deur sy vader Oom Francois Bredenkamp ('n bou aannemer) gemaak is. Die trofee in die vorm van 'n hout wiel, word jaarliks toegeken in die kategorie "Uitmuntende diens aan die klub".

Volgens Willie was Ben vir baie jare 'n toegewyde en aktiewe lid van die klub.

Na bietjie speurwerk het ons wyle Ben Bredenkamp se seun Francois wat in Hennopspark woon opgespoor en toe sommer vasgestel dat hy al 'n hele paar saamtrekke in Pretoria bygewoon het en ook saam met die groep was na Nooitgedaght.

5. BRIEWE VAN HEINDE EN VERRE.

Liewe Marthie,

Dis lekker om vir jou vanmore te kan groet en om jou te bedank vir die heerlike dag wat ons Saterdag in die ou

Wes-Transvaal deurgebring het. Die hele dag was gestruktureer rondom ons oorlede voorvaders, maar die lewende familielede van vandag het weer die vertroosting, gemaklikheid en liefde van bestaande bande beklemtoon. Dis kan natuurlik ook maar wees omdat ons daar as 'n groep van eendersdenkendes bymekaar was, maar dit het my opgeval dat ons in die nuwe SA al meer op hierdie geborgenheid van ons eie familiegroep sal moet terugval as ons soos burgers in ons eie land wil voel.

Die swaar en vreugde wat ons as familie meegemaak het, het ons verenig op 'n stuk grond waarop die

'gees van die Bredenkamps' deeglik inwoon - en niemand kan dit van jou wegvat nie. Ook Barry het dit beleef en daarvan deel geword. Baie dankie vir jou persoonlike aandag en sorgsaamheid.

Sal jy asseblief so gaaf wees om my die bankrekening besonderhede per e-pos aan te stuur. ek wil lidmaatskap gelde inbetaal.

Laat weet asseblief watter inligting jy van my benodig vir die Register, dan kan ek dit ook aanstuur.

Beste groete,

Francois (& Barry) Bredenkamp

Prof. F. Bredenkamp

Direkteur: Navorsing

Technikon Noord - Wes


Marthie.
Ek was nou net op die Bredenkamp "website" en was aangenaam verras!! Ek wil net namens my familie baie dankie se vir al die tyd wat jy al ingesit het!!

Laat my asb weet as daar enigiets is wat ek kan doen om te kan help!! Ek dink dit is baie belangrik dat ons generasie moet betrokke raak en so veel as moontlik by ons ouers moet uitvind, anders raak dit dalk vir ewig verlore.

Geniet die dag verder

Riaan Bredenkamp.


Marthie.

First of all let me introduce myself. I'm Kirstan James Steven Bredenkamp, First son of Densil Noland Bredenkamp, First grandson of James Steven Bredenkamp, First great Grandson of Johannes Jacobus Bredenkamp.

I was born in Zimbabwe on the fifteenth of September 1981 and have grown up here ever since.

I came across the website RootsWeb.com a few days ago and it was unbelievably exciting to find someone looking for Bredenkamp's living in Zimbabwe to complete our family tree. And thought I would try and help you out by gathering information from this side of the world.

Was wondering if you could send me any information regarding the "Bredenkamp" family as I would love to know the roots of our origin. From this side I will be gathering information from my Granddad who is currently living in Lusaka, Zambia.

Kirstan Bredenkamp



6. BYEENKOMSTE EN BESOEKE

CLARENS

Vrydag het van ons komiteelede Jannie, Marthie, Gert en Sarie Bredenkamp vroeg oggend vertrek na Clarens, waar ons as Bredenkamps gaan saamkuier het op Saturdag 1 Maart.2003 op die plaas Berlin in Clarens.

Tannie Emma Booth, haar seun Charles en Annie Booth het ook vir ons kom kuier. Annie het eers gaan fietsry, sy is 'n kampioen ryer as dit by fietsry kom. Denis Bredenkamp was ook teenwoordig.

Die gasvryheid wat ons ontvang het van ons gashere en gasvrou Johan, Bess, Niel en Tappie was uit die boonste rakke. Berlin is sowaar 'n plek waar 'n mens kan gaan droom en vergeet van die buitewêreld. Berlin is nou in 'n gastehuis omskep.

(a1b3c2d4e4f3g2) Theunis van Andel Bredenkamp (Kammetjie) is gebore op Paul Roux distrik Bethlehem op 31.8.1921. Hy en Helena Dorothea (Thea) Roos is getroud is op 18.9.1948. Thea is gebore op 30.12.1924. Hy het geboer op die twee erfplase Trentham en Berlin distrik Bethlehen wat eers aan die Roos familie behoort het. Theunis van Andel was 'n kranige polospeler wat heelwat medaljes verower het vir ons om te bewonder. Hulle kinders Johann, Bess, Niel en Tappie is daar gebore en groot geword. Theunis van Andel Bredenkamp sterf in Bethlehem op 10.12.1987.

Marthie Bredenkamp.


Bredenkamp saamkuier op Berlin






Die ander plaas naby Berlin in Bethlehem



ALBERTON

Een van die nuwe lede op ons komitee, naamlik Wynand en sy vrou Els Bredenkamp het 'n saamtrek op Maandag 16 Junie 2003 aan huis in Alberton gereël. Met baie min tyd tot meeste se beskikking slaag hulle daarin om 'n heerlike groep bymekaar te kry. Hulle was so ver as vanaf Swartruggens. Groot waardering vir die Sakkie en Winnie Visser vir die opoffering om so ver te ry om die geleentheid kon bywoon. Van die ander familielede kon ongelukkig nie daar wees nie weens ander verantwoordelikhede.

Groot waardering aan ieder en elk wat die speur - en opspoorwerk gedoen het en vir die toewyding waarmee die Bredenkamps die groot taak verrig. Foto's was uitgehaal en inligting kon nie met sekerheid vasgelê word nie maar daar word baie vordering reeds gemaak. Dit was 'n voorreg en 'n ervaring om vir die eerste keer deur Bredenkamps omring te word. Die emosionele ervaring om vir die eerste keer na foto's van vyf geslagte Bredenkamps te kyk en dit maak sin, kan nie beskryf word nie. Na 'n heerlike dag van saamkuier, gesels, foto's kyk en neem en verversings is daar 'n band gesmee wat nie maklik gebreek sal word nie en ons dank aan die Hemelse Vader daarvoor.

Baie dankie aan elkeen wat bygedra het tot die sukses van hierdie dag.

Wynand Bredenkamp


Wynand - ongelooflike trekke na Barend Godfried a1b8c6






Van die Bredenkamp afstammelinge by Wynand se huis bymekaar.



KAMEELDRIFT 313 J.R

Ons nuwe lid op die komitee Elize Pieterse (Bredenkamp) en haar pa Jannie het 'n saamtrek gereël en daar was naas die sewe komiteelede nog vele ander Bredenkamps en afstammelinge. Baie dankie aan almal wat 5 Julie 2003 teenwoordig was.

Daar is oor - en - weer gegroet en voorgestel en 'n besef dat ons mekaar nie eens ken nie. Frikkie Bredenkamp het die dag, vir Onse Hemelse Vader gevra om ons met die groot taak te seën en ons harte en hande hiermee te versterk, om van hierdie groot taak 'n sukses te maak. .

Pieter Bredenkamp het kortliks vertel van die doelwitte en werksaamhede wat reeds vermag is deur die komitee bv. die insameling en redigering van inligting, die bywerking van nuwe inligting, die samevoeging van inligting in CD formaat en later in boekvorm. Hennie het die stamboomgeskiedenis van Jan Frederik, Jan Daniël en Christiaan Detleff Bredenkamp asook sy besoek aan Duitsland op die tafel uitgestal.

Marthie en Jannie het die Barend Godfried kant van die Geslagsregister teen die Lapa se muur uitgestal. 'n Skandeermasjien is ingespan en ou familie foto's en inligting is hierop vasgevang. Groepfoto's is geneem, en dit is belangrik om by elke samekoms 'n bywoningsregister in te vul om later te kan bevestig wie op die foto teenwoordig was. Familiebande is gesmee rondom braaivleisvure wat lank nagelaat is om saam te kuier. Daar moet tyd gemaak word om die familiebande bymekaar te hou en mekaar gereeld te kontak.

Te voet het ons die paadjie gevolg om die plaashuis te besigtig, wat deur Johannes Christoffel Bredenkamp (gebore 12.06.1882 en oorlede 26.07.1942), ongeveer 1905 self gebou is, op die Plaas Kameeldrift 313, erfgrond van Johanna Lourensina (gebore Smit), sy huweliksmaat.

Daarna het Johannes Christoffel Bredenkamp (Jannie) * 1943, wat nog steeds in besit is van die grond, ons op sy bakkie aangery na die familiebegrafplaas 'n kilometer of wat daarvandaan. Hier in die familiebegrafplaas lê twee geslagte Johannes Christoffel Bredenkamps bymekaar begrawe, pa en seun. 5de geslag en 6de geslag gebore. Drie geslagte is nog wonend op die eiendom.


Groep van die Bredenkamps by Kameeldrift






Plaashuis omstreeks 1905 self gebou deur Johannes Christoffel Bredenkamp



BESOEK AAN STRYDFONTEIN 606 - HORNSNEK PRETORIA

Op Saterdag 6 September besoek 'n paar van ons Bondskomiteelede saam met Ben BREDENKAMP die ou familieplaas en begraafplaas op Strydfontein

Ben is op 17.09.1925 op die plaas gebore en gedoop Barend Abraham BREDENKAMP. Hy is die kleinseun van Barend Josef Johannes BREDENKAMP (a1b3c2d5e1) gebore 30.03.1850 en oorlede 08.07.1935) wie ook op Strydfontein in die familiegebraafplaas begrawe is. Daar is nog verskeie ander BREDENKAMP grafte asook VAN DEVENTER en DE BEER grafte. Sewe klipstapels op grafte van NAUDES het ongelukkig geen identifikasie nie, maar is volgens oorlewering grafte van NAUDES van die Naude Trek wat in die Groot Trek tydperk daar gesterf het. Ben hou die begraafplaas netjies en verdien 'n pluimpie vir wat hy as bejaarde steeds verrig.

Die ou opstal en plaasskooltjie is verbreek en verbou maar steeds herkenbaar, die klipkrale word omarm deur massiewe wildevyebome en die watermeulgeboue staan nog stewig en word as buuitegeboue gebruik.

Almal van ons kom onder die indruk van hoe verganklik alles is, maar die tema van 'n plaasskooltjie soos op feitlik elke afgeleë terrein wat ons al besoek het staan uit.

Deur Duitsland, die Overberg, Vrystaat, Noordkaap en Transvaal spreek dit boekdele dat opvoeding en onderwys so 'n hoë prioriteit by ons voorgeslagte gehad het. Mag ons daaruit leer en die toekoms steeds in dieselfde gesindheid aandurf.


Klipkrale word omarm deur massiewe wildevyebome






Watermeul geboue staan nog stewig





'N BESOEK AAN KADEBIS

Agt Komiteelede van die Bredenkamp Familiebond was bevoorreg om op Saterdag 4 Oktober 2003 in die harde droë wêreld met lafenis, eetgoed en liefde en hartlikheid getrakteer te word - 'n kenmerk van die mense van die wêreld!.

By die Kadebis Boeresaal op 'n ou Bredenkamp familieplaas met sy begraafplaas het ons heerlik gekuier met ongeveer 25 Stellalanders van oud tot jonk en Bredenkamp gebore, aangetroud of ondersteuners. Afstande en sinkplaatpaaie het hulle nie gekeer nie. Pat en Sus Bredenkamp van Dwaling en Wors en Carin van Lovedale het dit bewys. Baie dankie.

Gert en Sarie Bredenkamp van ons komitee het, met samewerking van Thys van Wyngaardt die huidige eienaar van daardie gedeelte van Kadebis en Calla van Tonder en andere, puik reëlings getref. Die braaiers en die vriendelike dames het 'n heerlike middagete voorgesit. Wees verseker hierdie ontdekkingstog van ons gaan nog tot baie nouer bande met die streek lei."Ons is mos ganse van dieselfde dam" soos die Noordkaaplandse spreekwoord sê.

Foto's, plaasrekords, familie - takke, die besoek aan die begraafplaas is met groot entoesiasme saam gedeel. Die bewaringsaksie t.o.v. die ou begraafplaas is beplan en binnekort sal 'n nuwe paslike omheining en versorgingsaksie in plek wees. Ons het alreeds nuwe inligting per faks ontvang van Pat en sy gesin op Dwaling. Baie dankie daarvoor. Dit word reeds bygewerk in die stamboom. Hulle is terloops afstammelinge van Barend BREDENKAMP (a1b3c1).

Ons doen 'n beroep op alle afstammelinge van of persone wat kennis dra van Jan Frederik BREDENKAMP gebore 1869 van Randfontein, Alettasrus omgewing en Barend Godfried BREDENKAMPgebore1826 Colesberg / Beaufort-Wes omgewing en Barend Jacobus BREDENKAMP gebore 1835 van die Vryburg, Louwna omgewing. Laat hoor van julle asseblief!

Hennie Bredenkamp


Familie by begraafplaas op die plaas Kadebis






Familie bymekaar in saal op die
plaas Kadebis





DIE BREDENKAMPS SE PELGRIMSTOG NA NOOITGEDACHT

Gert en Sarie Bredenkamp het hul Francois Alwyn vertakking (a1b8c6d geslag) met soveel oorgawe nagevors dat hulle na vele jare weer die familiekerkhof op Nooitgedacht noord van Silkaatskop gaan soek het, gekry het en 'n groepbesoek gere?l het vir 16 Augustus 2003.

Daar is gewoel en gere?l en met hulp van almal breek die groot dag aan en met groot geesdrif vergader 21 Bredenkamps met 8 motors om 8:00 vm by die Swartrugggens kerkhof daardie besondere Saterdagoggend. Kort na die stemmige en ernstige begin van die dag begin die sports!

'n Paar Pretorianers het 'n bietjie laat lepel gelê en toe begin die selfone werk. (Dis nog 'n wonderliker ding as 'n donkie) om almal bymekaar te kry. Vandaar na Sakkie en Winnie Visser - hulle se plaas om ontbyt en hul hartlike gasvryheid te geniet en 'n foto sessie. 'n Paar motors mis die afdraaipad in die dorp en nog ander die plaashek - nogal met 'n groot naambord!

Toe suis die lug weer met die selfone wat moet regmaak wat krom is. Ek vermoed daar was so 40 selfone (ongeoudit - dit het so geklink) en 2 Gee-Pee-Esse!!. Dis nou 'n kontrepsie wat vir jou presies sê waar jy is as jy dit nie reeds weet nie. Tot op die naaste tree so word aan ons oningeligtes verduidelik.

Toe ry ons 'n stofstreep uit anderkant Marico oor Rusverby, Lindleyspoort, Skuinsdrif, Staatsdrif en Silkaatskop. Na Rusverby is ons rus ook verby. Twee papwiele, 24 selfoonoproepe en 'n klomp ekstra kilometers later kom ons voor Nooitgedacht se hek met 'n slot en ketting wat beduie - "Geen toegang - draai maar om!"

Na Groot Indaba, nog 42 selfoonoproepe klim 'n ekspedisie oor en gaan vra die nuwe baas van die plaas om hulp. Vriendelik met 'n breë glimlag kom sluit hy oop en ons omsingel Gert se geboorteplaashuis met al ons Bredenkamp bronne beskikbaar. Sommiges kon gedink het dat die boere weer die plaas terugvat !

Arme Gert! Spierwit van onsteltenis oor wat ons vind. Uiterste verwaarlosing deur die nuwe eienaars. 'n Vrot donkie karkas aan 'n slaghaak in die huis en 'n reuk wat ontwikkel kan word as wapen om massa te verdryf. Weer Indaba, weer selfone wat gons. Die Bredenkamps organiseer almal en ons trek verder. So 4km verder en na sowat 23 ½ hekke wat wissel van smoelneukers tot uiters vindingryke doringdraad hekelwerk sorg die erdvarkgate dat die pelgrims goeie oordeel aan die dag lê en parkeer en verder stap.

Dit het gelyk soos die Israeliete agter Moses aan deur die swarthaak, withaak, kameel en elke annerlike soort. Behalwe een verskil, ons volg toe meer as een Moses want ons het GPS en selfone en Gert, Sarie en Marthie herken klokslag 'n kameeldoring wat kwansuis by die Begraafplaas staan. Toe swerf die "Israeliete" maar vir 'n paar ure, Oom Frikkie op 89 kietsregop met sy kameeldoringstomp as kierie nadat hy van al die slange gehoor het.

Naderhand is ons terug langs die grootpad na nêrens nie (Nietverdiend?) en kilometers vêr van ons 8 eensame motors daar in die Marico Bosveld terwyl hulle net Johannesburg en Pretoria se strate ken. Dis mos Herman Charles Bosman wêreld die!

Nog 'n Indaba maar nou is die geselskap al wyd versreid. Manne met GPS, voortvarende jonges wat oral in die bos rondhol en in verskillende rigtings pad aanwys laat jou wonder oor hoeveel afwesiges daar gaan wees by die volgende "roll call" Ek wonder nog so by myselwers of daar nog ridders op Witperde is toe kom 'n ou rammelkas rooi Nissan bakkie in 'n stofwolk verby. Marthie is agterop en haar hare is los en waai in die wind en sy skreeu en ek dink !, hier het ons nou nog 'n mensroof kaping ook.

En toe kom die groot val in my lewe. 'n Toegegroeide stuk verroeste doringdraad sorg dat ek Nooitgedacht koop volgens al my regte verskans in die Grondwet en ek slaan neer met absolute oorgawe. Toe die rooi stof gaan lê en die kruitsmaak so effe van my verhemelte af verdamp hoor ek stemme: Haai dis Hennie! Het hy seergekry? Is hy oraait?

Ek wonder, is my skouer af, is my kamera oraait, is ek op Nooitgedacht of by die Groot Poorte? Wie is hierdie mense hier om my? Tydgenote of Voorgeslagte? Gelukkig week ek darem iets van almal, voorgeslagte en huidiglik en ek berus dat die familielede sal help, waar ek my ookal bevind. Opgehelp, opgestaan, afgestof en 'n sug van verligting, ek is nog hier! Op die bakkie seer skouer en al, terug om die motors te gaan haal. Weer al die hekkie oopsluit en oopryg en ontrafel, die motors kry, met Simon regmaak en weer al die hekke toeryg of toesluit.

Gelukkig is Simon die vriendelike swart eienaar van die bakkie so uit die veld geslaan deur die klomp "buitelanders" in sy wêreld dat hy help - en genoeg petrolgeld verdien om daardie Nissan 'n lang ruk te laat loop. Uiteindelik oorwin ons met Geloof, Hoop en Liefde en Vasbyt en Saamwerk en ons staan by die Groot ou Kameeldoringboom met die klipmuur om die begraafplaas.

My skouer klop en pyn, Francois bring pille en ek maak genoeg spoeg bymekaar om te sluk. Almal is besorgd en belangstellend na my welstand en ek skep moed want Francois glo sy pil sal my deurhelp. My skouer klop al hoe harder tot ek besef maar dis pikke en grawe agter die begraafplaas muur wat 'n gat grawe. Het hulle dan nou opgegee om my deur te haal? Ek kyk die omgewing goed deur vir oulaas en besluit vasbyt is nou jou voorland of jy word vandag hier ingespit en jou inskrywing in die stamboek word net hier gefinaliseer.

Die pikke en grawe word knaphandig deur Carl, Barry en Jannie aangewend om skoon te skoffel en 'n gat te grawe vir die vleklose staal paal en staander wat Wynand laat maak het vir 'n gedenkplaat. (Elize, ek dink oom Jannie moet dankbaar wees. Jy het goed getrou, hierdie Pieterse is 'n aanwins vir enige familie.)

Oom Frikkie vra die Seën op die verdere verrigtinge en 'n paar oomblikke van gewyde stilte heers in hierdie groot wye pragtige natuur. 'n Mens dink onwillekeurig daaraan - as hierdie klippe kon praat !!. Hoe trots kan ons nie wees op voorgeslagte wat hier kon oorleef sonder enige van ons moderne fasiliteite en hulpmiddels nie!

Dis al na vier en die jongklomp begin die wêreld verken. Barend kom teruggehol en sê daar's 'n seekoei so 400 tree van ons af in die Marico rivier. Ek meet die klipmuur en die wydte van die hekkie langs die Ou Groot Kameeldoring en die spasie binne die muur so met die oog en besluit Francois Alwyn hulle het goed beplan. 'n Seekoei sal nie sommer hier inkom nie.

Die nageslagte is vireers veilig in die begraafplaas! Nadat die paal met sy kateder en gedenkplaat vasbeton is het oom Frikkie plegtig met deernis na behore die verrigtinge met 'n gebed afgesluit waaroor ons nog lank kan nadink. Weer 'n Indaba en wyse besluit om net daar so 100 meter van die begraafplaas onder die groot Kameeldoring 'n vleisie te braai en 'n broodjie te breek.

Na 4 ure se rit en deur genade van Bo is ons almal veilig tuis. 'n Warm bad en bed was 'n lafenis na 'n dag vol nuwe gewaarwordinge, ervarings, emosies en dankbaarheid dat ons op die wyse 'n voortreflike Familiebond kan vertroetel en uitbou.

Hoe lyk dit? Het hierdie wedervaringe nie 'n aansteeklike effek nie? Kom ons geniet ons Bondaktiwiteite, verryk onsself so en dra by tot 'n baie belangrike familiesaak en strewe.

Hennie Bredenkamp.


Een van die voertuie in die bos
" splinter nuut"






Familie by die opstal op die plaas "Nooitgedaght."



MABALINGWE WERKSESSIE

Die komitee het 'n magdom inligting gehad wat verwerk moes word - en Hennie het reëlings getref dat ons van Maandag 25 Augustus 2003 tot Vrydag 28 Augustus 2003 'n werksessie kon hê. Altesaam ± 120 man ure het ons in staat gestel om veral die gegewens te kontroleer met nuwe bronne en kruisverwysings. Ons kan nou rapporteer dat, met die inligting tot ons beskikking, die stamboom nagegaan is en tans tot die beste van ons vermoë verwerk is, vir latere terugverwysings.

Die belangrikheid van die aksie het onder meer geblyk dat ons die gegewens van 'n persoon bespreek het, te wete name, doopdatum, sterfdatum, troudatum ens. en as vasgestel word dat dit nie heeltemal klop daar maar weer sorgvuldig nagegaan moet word.

'n Belangrike aspek wat na vore gekom het is dat ons in sekere gevalle verdere inligting moet ontvang word om die ontbrekende besonderhede te kan invoeg ter wille van volledigheid van die hoofstamboom.

FAMILIE-GESKIEDENISSE

TEGNIESE VERSORGING VAN FOTOS

Volgens die Genealogiese Genootskap van Suid Afrika - Noord-Transvaal Tak

Baie van ons - moontlik die meeste - se belangstelling in die familie geskiedenis hou verband met hulle wens om meer uit te vind omtrent hul voorsate, veral drie of vier geslagte in die verlede. As die gogga hul eers gebyt het, gebeur dit soms dat sulke lede al verder en verder oor hul families begin navors, Daar bestaan baie sulke familiegeskiedenisse, en almal dra hul deeltjie by tot ons kennis van die verlede. Dit word veral opgehelder deur van ou fotos, waarin ons kan sien hoedat ons voorouers gelyk het, en die kleredrag van daardie dae.

'n Baie ou foto kan 'n kosbare bydrae maak tot die familie se geskiedenis. Die probleem is dikwels dat hoe ouer die foto hoe moeiliker dit is om 'n persoon of persone te bevestig of om bevredigende af drukke te maak. Deur nogtans die ou onduidelike foto's in te voeg in 'n publikasie, bestaan die gevaar dat dit die waarde van 'n boek mag verlaag. Daar bestaan indrukwekkende voorbeelde van familiegeskiedenisse waarvan sommige ou foto's so onduidelik is en geen inligting rondom die foto's bestaan nie. Daarom is dit baie belangrik om korrekte inligting agter op foto's te plaas sodat dit vir die nageslag bewaar kan word.

Vandag is die tegnologie aan ons kant en stel ons instaat om ou, onduidelike fotos op te bou tot iets meer gangbaar, die resultate waarvan kan gebruik word om te publiseer. Daarom is dit baie belangrike vir bewaring van enige foto's.

7. EN VERDER

Wynand het nou ons stamboek gegewens wat terloops reeds detail van meer 2,000 BREDENKAMPS bevat met die rekenaar verwerk in sagteware familie program. Die inligting - as ons dit op een spreivel sou plaas - beslaan reeds 'n 2 meter wyd en 26 meter lank vel (!!!) en ons is nog steeds besig om verdere inligting by te werk! Ons Bredenkamps is aan Wynand groot dank verskuldig vir sy ywer in verband met die familiebond sake

Hou ook ons ander Webblad dop!

http://www.geocities.com/bredenkamp_bond - http://www.geocities.com/bredenkamp_bond

Ons wil weereens 'n beroep doen op Bredenkamps wat oor e-posfasiliteite beskik om die nuusbriewe en inligting onder familielede te versprei wat nie toegang het tot internet nie.

Ons Komitee sal steeds as 'n span voortgaan om gedurende 2004 die stamboom gegewens so volledig moontlik in druk (voorlopige vorm) beskikbaar te stel sodat al die Bredenkamps dit ter insae kan hê en ontbrekende inligting aan die komitee kan deurgee en ook moontlike foute kan aandui.

Verdere aksies waaraan ons vertrou die Bredenkamps in die verskillende streke inisiatief sal neem is om:

- Streeksfunksies en saamtrekke te reël.

- Identifisering van begraafplase met die oog op bewaringaksies

- Bogenoemde inligting na ons deur tegee vir gebruik in volgende

nuusbriewe.

PROGRAM 2004:

Ons sien uit na verdere uitstappies en byeenkomste onder andere na die Petrusville/Van der Kloof BREDENKAMPS daar suid van die Oranje wat ons so pas ontdek het. Almal afstammelinge van Barend Godfried (a1b8) wat reeds 15 jaar oor die Groot Trek in 1821 daar gevestig het. Besoeke aan van die ou familieplase o.a. Paardeberg, Kalkfontein, Hondeblafsrivier, Jakkalskuil, Knoffelfontein en Bokkenkraal beloof om 'n groot hoogtepunt te wees en vele bondslede te werf, inligting te versamel en familiebande te versterk.

Ons hoor die flukse seuns van Fanie BREDENKAMP boer 'n hond uit 'n bos uit op hul besproeiingsplase Hul tante, Anna, op die dorp was reeds 'n groot bron van inligting oor die familie.

8. TEN SLOTTE

Laat weet vir ons van enige interessante dinge wat met u gebeur - Bredenkamp babas wat gebore word; Bredenkamp troues; spesiale verjaarsdae; spesiale bevorderings; wanneer enige Bredenkamp in die kollig kom; enige voorstelle of kritiek teenoor die familiebond; ag sommer enigiets wat dalk van belang kan wees. Vertel ons van u familiebesonderhede sodat ons die stamboom kan aanvul en tot by die jongste aankomelinge kan opdateer

U kan Marthie Bredenkamp kontak by:

E-pos: bredenm@intekom.co.za of marthie@bredenkamp.co.za

Posbus: Knysnalaan 282

Sinoville

Pretoria

0182

Telefoon/Faks: (012) 543 -0860

Alle donasies, hoe klein ookal, baie welkom is, is dit donasies van hierdie aard wat die Familiebond werklik finasieel gesond hou. - die komitee het uitgawes wat die huidige fonds dreineer - soos bv. vir navorsing doeleindes, die druk en verspreiding van die nuusbrief en vir die projek, bewaringaksies van begraafplase. Die rekeningbesonderhede is soos volg:

Bredenkamp Familiebond, ABSA Bank, Tak Sunnyside

Aktiewe Spaarplan, Rekening Nr: 90-7187-3122

Om dit alles te vermag, het ons egter die ondersteuning van alle Bredenkamps nodig. Hoe meer lede ons het, hoe makliker is dit om ons verpligtings na te kom.. Ons sou graag wou gesien het dat lidmaatskap gratis moes wees, dog in hierdie duur tye waarin ons lewe, is dit nie moontlik nie. Net die administrasie van die familiebond - briewe, seëls, koeverte, die nuusbrief, ensovoorts - verg groot bedrae geld

AFSTERWE VAN BREDENKAMPS

Ons meegevoel aan Bredenkamps met afsterwe van hulle familielede.

Ons vorige voorsitter Oom Frikkie en sy gesin met die afsterwe van sy eggenote Tannie Nellie na 'n ernstige beroete aanval. Sy is in die Little Company of Mary Hospitaal op 5.6.2003 oorlede.

Jacomina Elizabeth Bredenkamp van die Strand en gesin met die afsterwe van haar eggenoot Isaac Christoffel Bredenkamp

* 20.10.1925 oorlede op 6.4.2003.

Familie van Mara Gouws nee Bredenkamp* 10.10.1942 met haar skielike heengaan op Vrydag 25.7.2003, roudiens op Donderdag 7 Augustus 2003 vanuit die NG Kerk Hermanus waarna haar as in haar moeder se graf geplaas is.

Rienne Bredenkamp en familie met die afsterwe van Pieter Jacobus Johannes Bredenkamp * 16.9.1930, oorlede 29.10.2003,

Van Pretoria. Verassingsdiens was vanuit die: Ned. Herv. Kerk, Pretoria-Wes op 3 November 2003 om 10h00

Aan die familie met die afsterwe van Christiaan David Bredenkamp * 22 November 1939 van Pretoria op 13 November 2003. Verassingsdiens op Maandag 17 November 2003 om 10h00 vanuit die Afrikaanse Protestante Kerk Wesmoot.

Die afsterwe van Martie se ma ouma Bakker van die familie Bredenkamp en ouma Dreyer van Carl Pieterse wat met Elize Bredenkamp getroud van Kameeldrift JR 313. Ons as Bredenkamps dink aan julle.

BREDENKAMP HUWELIKE EN BABAS

Van die kant van die Familiebond wil ons graag vir u van harte gelukwens.

Die jaar het verbygesnel en ons glo dat ons Bredenkamps hier aan die Jaarend kan sê: Aan die Liefde van die Here is daar geen einde nie en sy genade was vir elkeen elke dag oorvloedig. Mag elkeen van u opnuut die wonder van die geboorte van ons Verlosser, Jesus Christus met Kersfees belewe en mag u in 2004 die seën van ons Hemelse Vader op 'n besondere wyse ervaar,

Namens die Komitee

Pieter Bredenkamp

LIDMAATSKAP UITNODIGINGSBRIEF

1. ALMAL IS WELKOM BY DIE BREDENKAMP FAMILIEBOND

Die Bond is vir die BREDENKAMPS - Hier en nou en tot in die verre toekoms!!

2. Omdat ons baie trots is op ons FAMILIEBANDE en ons Bond se prestasies en U graag as LID daarvan wil werf, wil ons U meedeel wat die familiebond sedert sy stigting reeds vermag het.

Die BREDENKAMP STAMREGISTER en FAMILIEGESKIEDENIS is reeds vêr gevorder. Dit begin by JOHANNES CHRISTOFFEL BREDENKAMP wat op 24 September 1763 aan boord van die Leckerland by die Kaap voet aan wal gesit het en wat die stamvader van al die Bredenkamps in Suid-Afrika en ook buite ons grense is. Alle Bredenkamps se informasie en hulp word benodig om ons boek so volledig as moontlik saam te stel.

'n BREDENKAMP FAMILIEBONDWAPEN is ontwerp en reeds by die Staatsheraldikus geregistreer vir gebruik deur almal wat aangesluit het by die BOND.

Daar word gereeld streeksfamieliefeeste gehou soos by Pretoria (ORYX EKO PARK), POSTMASBURG, CLARENS, MEYERSDAL in ALBERTON en KAMEELDRIFT 313 JR in Pretoria. Elke byeenkoms was in reuse sukses en familielede het mekaar vir die eerste keer daar "ontdek" en aangenaam gekuier.

NUUSBRIEWE WORD UITGEGEE met interessante inligting en nuuswaardige berigte o.a van saamtrekke wat vir die BREDENKAMPS van belang is.

Die BREDENKAMP WEBTUISTE is ontwerp en word instand gehou sodat belangrike inligting daarin bekom kan word, maar ook waar bekendmakings en uitnodigings na saamtrekke geadverteer kan word.

Die jongste is 'n leerhoed met die FAMILIEBONDWAPEN en word teen kosprys (baie billik) verkoop. Die kan by Marthie Bredenkamp bestel word by 012 543 0860

Ten spyte van wat reeds bereik is het ons nog verskeie ideale en doelwitte waarvan die belangrikste is om die inligting in die stamregister so korrek en volledig moontlik te kry en andersyds om 'n hegte band te bind tussen al die BREDENKAMPS sodat ons mekaar leer ken, waardeer en geniet.

Met aansluiting sal 'n lidmaatskapsertifikaat met die BREDENKAMP familiebondwapen in volkleur en ander tersaaklike dokumente aan U gestuur word.

'n Bereidwillige medewerker word gevra om die komitee by te staan met die reël van familiebyeenkomste in U gebied asook met die verkryging en verspreiding van inligting.

Om dit alles te vermag het ons u nodig en veral ook u lidmaatskap van die BOND waardeur u ondersteuning bied.

Voltooi asb die aangehegte aansoekvorm en pos, faks of E-pos dit aan:-



Marthie Bredenkamp…..

Fax nr: 012 543 0860

Knysna Laan 282 Sinoville

Pretoria. 0182

E-pos: bredenm@intekom.co.za

Bank Bredenkampbond -Rekening nr. 90 7187 3122 - Aktiefspaar Sunnyside



AANSOEK OM LIDMAATSKAP VAN DIE BREDENKAMP FAMILIEBOND



BESONDERHEDE VAN AANSOEKER:



Volledige name volgens geboortesertifikaat:____________________________________________



Van:(of nooiensvan in geval van dame) _______________________________________________



Geboortedatum:_____________________________ID nr:________________________________



VOLLEDIGE POSADRES:_________________________________________________________



VOLLEDIGE WOONADRES: _______________________________________________________



e-pos ADRES:_____________________@___________________TEL NR: (H)_______________



TEL NR (W) _______________FAKS Nr._____________________SEL Nr. __________________



GETROUD MET (Indien van toepassing)



Volle name:(Volgens geboortesertifikaat) _____________________________________________



Van/Nooiensvan:_________________________________________________________________



VOLLE NAME VAN KINDERS: (Volgens geboortesertifikaat) EN GEBOORTEDATUM



1._____________________________________ 4.__________________________________



2.____________________ _________________ 5.__________________________________



3._________________________ ____________ 6.__________________________________





BESONDERHEDE VAN AANSOEKER SE OUERS:



VADER : Volle name ___________________________________Geboortedatum:______________



Van: ____________________________________________________________________



MOEDER: Volle name__________________________________Geboortedatum:______________



Nooiensvan:______________________________________________________________



GELDE BETAALBAAR:

· Indien aansoeker 70 jaar en ouer is: R100 eenmalige vir lewenslang lidmaatskap.

· Indien aansoeker 21 jaar of ouer is maar jonger as 70 jaar: R200 eenmalige vir lewenslang lidmaatskap. Of R100 Toetreefooi en R50 per jaar.

· Ouers kan ook vir hulle kinders onder die ouderdom van 21 jaar aansoek doen om lidmaatskap

(elk op afsonderlike aansoekvorm. Aan elke kind word 'n afsonderlike lidmaatskapsertifikaat uitgereik) Die gelde betaalbaar vir elke kind is R100 (eenmalig) vir lewenslang lidmaatskap

Vir die Komitee se gebruik:



Lidmaatskap nr: a___b___c___d___e___f___g___h___i___j___



__________________________________________

Gegewens gekontroleer en geteken namens Komitee





_____________________________

HANDTEKENING VAN AANSOEKER





TUISBLAD | BREDENKAMP | NUUS | VERGADERINGS | ITEMS TE KOOP | FOTO GALLERY | LIDMAATSKAPVORM | ANDER VORMS | RESEPTE | AFSTERWES | BABAS | REUNIES | DUITSLAND | SPESIALE DAE | TEKEN GASTE BOEK | KONTAK ONS | Site Map


Back to content | Back to main menu