bredenkamp.co.za


Go to content

Nommer 2

NUUS > Nuus Briewe > 2001

Nuusbrief - 2/2001

n Hartlike groet aan u almal!! - ( Download in MS Word Formaat)

Om selfs net deur middel van die nuusbrief met u te kan gesels, is vir ons ‘n voorreg. Sedert ons laaste nuusbrief het dinge gebeur wat ons weet vir u ook interessant gaan wees. Lees gerus* SAAMKUIER EN PIEKNIEK TE ORYX EKO PARK, PRETORIA OP 21 APRIL 2001 komitee het ons gehoop dat daar genoeg belangstelling sal wees sodat ons darem so tussen 20 en 30

U onthou die uitnodiging aan die Bredenkamps in en om Pretoria om dié dag saam te trek. As mense sou wees. Wat was ons verbasing en dankbaarheid toe die Bredenkamps UIT HULLE GATE uitgekruip het en HULLE GATE UIT geniet het, - nie net van Pretoria omgewing nie, maar Johannesburg, Fochville en VanderBijlpark. Gladys Wilford, gebore Bredenkamp, van Natal het selfs gereël dat haar besoek aan Transvaal met die datum saamval sodat sy ook teenwoordig kon wees.

Die enkele foto’s sal u oortuig dat almal - oud en jonk - dit baie geniet het. Daar is land en sand en vêr terug gesels en veral die jonges het ontdek dat hulle, hulle ouers en grootouers ‘n pad in Suid-Afirka geloop het. So met die gesels het familie mekaar weer ontdek en ontmoet. Dit was ‘n heerlike piekniek met volop braaivleis, pap, slaaie en broodjies en vrugte en die gesinne het ook saam aangenaam ontspan. Die enigste ongeval was toe die mak vlakvarkie sy neus in iemand se kosmandjie gedruk het. Die jonges het pret gehad om hom te vang en hy is veilig agter draad geplaas om nie verder te pla nie.

Daar was heelwat interessante uitstallings met foto’s van die Bredenkamps van Hoopstad, Blaauwfontein, Kimberley, Strydfontein en items uit die eie familie-geskiedenis wat nou kosbare erfstukke is.

Miskien het die opmerking van ‘n jongman die dag se belewenisse die beste opgesom: “Moet tog nie dat ons weer jare en jare wag nie, ons wil en moet jaarliks bymekaarkom” - Ons sal so maak!!

Dit kan ook nie anders nie: Die Bredenkamps (gebore en aangetroud) het so geesgevat dat hulle nou self verder navraag doen en hulle eie familiestamboom navors en interessanthede soek wat aangeteken kan word. Een van hulle is Gert Bredenkamp van Florida, wat begin rondry het en foto’s van grafstene gaan neem het om sy familie se name, geboorte- en sterfdatums vas te lê. Vorentoe sal ons nog interessante nuusbrokkies in dié verband met u deel. LAAT DIE KOMITEE ASSEBLIEF DAARVAN HOOR!

Ons het soveel vertroue in die Bredenkamps op al die ander plekke dat ons u wil uitdaag om te reageer op die tema vir 2002: ONS BREDENKAMPS LEER MEKAAR KEN!! Neem asseblief inisiatief en skep so ‘n kuiergeleentheid! Dit hoef nie ‘n groot geleentheid met baie moeite te wees nie - kom op ‘n Saterdag of Sondagmiddag bymekaar vir ‘n bring-en-braai of selfs net koffiedrink-en-kuier. As dit eenkeer gereël is, is ons oortuig dat dit ‘n instelling sal word!! ‘n Lid/Lede van die komitee sal so ‘n byeenkoms bywoon as u wil hê ons moet.

* MABULA WERKSESSIE

Die komitee het ‘n magdom inligting gehad wat verwerk moes word - veral nadat Marthie in die Kaap besoek gaan aflê het. Sy was na Caledon en distrik en tot in die Kaap by die argiewe ens. Ons het besef dat dit nie by ‘n vergadering op ‘n Saterdag gehanteer kon word nie en Hennie het reëlings getref dat ons van Maandag 6 Augustus tot Vrydag 9 Augustus ‘n werksessie kon hê. Altesaam ± 120 manure het ons in staat gestel om veral die hoofstamboomgegewens te kontroleer met nuwe bronne en kruisverwysings. Ons kan nou rapporteer dat, met die inligting tot ons beskikking, die stamboom tot by die vierde geslag (met ander woorde a-b-c-d) nagegaan is en tans tot die beste van ons vermoë verwerk is, vir latere terugverwysings.

Die belangrikheid van die aksie het onder meer geblyk toe ons die gegewens van ‘n persoon bespreek het, te wete name, doopdatum, sterfdatum, troudatum ens. en vasgestel het dat dit nie heeltemal klop nie aangesien sy ses jaar voor geboorte gedoop is! Dan moet daar maar weer sorgvuldig nagegaan word en ontdek word dat op ‘n dokument die 0 baie soos ‘n 6 lyk! By dié werksessie is gevra: “Waar gaan ons dié persoon se gegewens kry?” waarop Marthie (moedeloos?) geantwoord het “ek weet nie, hy is dood, ek dink morsdood”.

‘n Belangrike aspek wat na vore gekom het is dat ons in sekere gevalle verdere inligting moet ontvang om die ontbrekende besonderhede te kan invoeg ter wille van volledigheid van die hoofstamboom.

Dit geld veral ten opsigte van die volgende:

Tweede geslag: a1b10: Jan Christoffel BREDENKAMP - gebore Swellendam 1790?

a1b11: Anna Magdalena BREDENKAMP - gebore Swellendam 23.2.1794

Derde geslag: Jan Frederik BREDENKAMP (a1b3) se kinders:

a1b3c3: Johan Christoffel BREDENKAMP - gebore 22.12.1805

a1b3c7: Johan Frederick BREDENKAMP - gebore 13.1.1822

a1b3c8: Maatjam Johannes BREDENKAMP - gebore 20.5.1823 Swartland

a1b3c9: Michiel De Kock BREDENKAMP - gebore 10.10.1824

a1b3c12: Jacobus Hendrik BREDENKAMP - gebore 7.11.1830 gedoop 19.12.1830

a1b8: Barend Godfried BREDENKAMP – gedoop Swellendam 19.11.1786 se seuns

a1b8c4: Cornelis Johannes Smuts BREDENKAMP – gedoop Kaapstad 18.4.1824

a1b8c5: Frederick Daniel BREDENKAMP - gebore 7.8.1925

Vierde geslag: Barend Godfried BREDENKAMP (a1b8c6) gebore 18.10.1826 se derde seun a1b8c6d3 Barend Joseph Johannes BREDENKAMP gebore Middelveld, Colesberg 30.5.1852 gedoop NG Kerk Colesberg 1.8.1852 en dogters:

a1b8c6d5: Maria Magdalena BREDENKAMP

a1b8c6d6: Cornelia Carolina BREDENKAMP

a1b8c6d7: Katharina Petronella BREDENKAMP

a1b8c6d8: Anna Maria BREDENKAMP (getroud met Du Preez?)

* HENNIE BREDENKAMP SE BESOEK AAN DUITSLAND

Op grond van die behoefte om meer en juiste inligting te hê ten opsigte van die stamvader Johannes Christoffel Bredenkamp wat hier voet aan wal gesit het, het Hennie besluit om sy droom nou werklikheid te maak. Sy besoek het plaasgevind vanaf 9 September 2001 en hy het ‘n unieke en waardevolle skat van inligting verkry en foto’s geneem wat, by terugskouing, onontbeerlik vir die ontwikkeling van die kultuurgeskiedenis van die Bredenkamps in Suider Afrika is.

Hennie verdien ons almal se opregte dank en waardering!!! Ons haal enkele van die besonderhede net kortliks aan:

* Hy het bevestiging gekry dat die voorvader Johannes Christoffel BREDENKAMP van die gebied STIFT (Stigting) QUERNHEIM, HERFORD, OOS-WESFALE, DUITSLAND, afkomstig is.

* Hy het heelwat BREDENKAMPS ontmoet: By die Volksbank (nie Volkskas nie) wissel hy reisigertjeks by ‘n Bredenkamp meisie. Die ou gryskop tannie wat die kerk in Stift Quernheim vir hom oopsluit is ‘n dogter van Heinrich Bredenkamp. Klaus Bredenkamp bedryf die meubelfabriek en Teschlerei op die ou plaas Nr 12 en Detlev en Birgitte woon in die straat met naam BREDENKAMPS-FELD.

* Sy oorweldigende indrukke is: Die familietrekke is steeds onmiskenbaar daar; die waardestelsel en godsdienstige oriëntering is daar en dis verbasend hoe min ons leefwyses en lewensopvattings verskil. Hy loop van die komiteelede, te wete Oom Frikkie, Oom Pieter en sy eie “doubles” daar raak. Toe die een hom sien was sy opmerking “Mein Gott - onkel August, nicht war?” en stel toe vas dat Hennie uit Suid-Afrika kom!


* Hy was oorval met vriendelikheid, gasvryheid en inligting en daar is veral hoë waardering dat ons die familieband hoog ag en ‘n familiewapen wil ontwerp.

* Die Bredenkamps in Duitsland is gewone mense: hulle het mooi gesinne, streef die goeie na en woon in ‘n rustige landskap en omgewing. Die kerk nl. Stiftkirche kan beskou word as ons werklike verbintenis met ons stamvader se heimat. (Evangelies Lutherse Kerk


* Een van die medewerkers van die Stiftkirche se nuusbrief is Christa Bredenkamp.

* FAMILIEWAPEN

Die komitee het al geruime tyd probeer om inligting te bekom, plaaslik vanaf Caledon-omgewing vir die Suid-Afrikaanse band en ook vanaf Duitsland, sodat ons gegewens kon identifiseer wat saambindend kan wees en waarin ons oorsprong, waardes, beginsels ens. vervat kan word, ten einde te oorweeg om ‘n heraldikus te nader met die versoek dat ‘n Bredenkamp familiewapen ontwerp word.

Na Hennie se besoek aan Duitsland kan hierdie saak nou met erns aangepak word. Later meer!

* WAT IS DIE KOMITEE SE DOELWIT(TE) VERDER?

* Ons sal ‘n afkappunt in die Hoofstamboom moet bepaal waarmee die komitee tevrede is dat die inisiële taak nl. die stamboombeskrywing so korrek en volledig moontlik gedoen is. Die komitee oorweeg om die vyfde en sesde geslag (e en f) nog deur te werk, want ons is van mening dat die families nou die gegewens vanaf die sewende geslag self kan opspoor, evalueer en die juistheid toets en aanteken. Verdere verwerking van die Stamboom sal nog steeds deur Marthie gedoen word om te verhoed dat inligting verlore gaan, so hou aan om inligting deur te stuur na haar.

* Daarna sal dit vir families moontlik wees (en inderdaad ook hulle eie verantwoordelikheid) om eie familie-vertakkings by te werk met inligting oor die jongste twee of drie geslagte wat nog geredelik beskikbaar is uit onlangse gebeure en dokumentasie en selfs die geheues van die nog lewende eie families. ‘n Belangrike faset van hierdie bywerk van die eie-familie geskiedenis is om omstandighede en gebeure vas te lê (op skrif, kasset, videoband ens.) om vir die nageslagte die geskiedenis lewendig te hou.

* Inligting wat nie primêr met die hoofstamboom as sodanig verband het nie sal deur families as ‘n eie familiealbum saamgestel en bewaar kan word. Dit sluit, onder meer in:

Foto’s, staaltjies, vertellings, herinneringe, beroepe en hoogtepunte, indeks van familie-erfstukke, persoonlike detail, titelaktes ens.

* U sal die deel van die stamboom wat op u familie betrekking het nou reeds kan bekom. Om die uitgawes wat die komitee het in die verband te dek, vra ons vriendelik dat u bereid sal wees om R20,00 per aansoek by te dra.

* ONS DEEL MEKAAR SE LIEF EN LEED

Die lief: Ons het verneem van die volgende baba’s wat ons glo nog baie vreugde in Bredenkamp gesinne gaan bring. Baie geluk aan ouers en grootouers.

- (a1b3c2d8e4f7g1h2) Susan nee Bredenkamp en Izak Petrus Oosthuizen en Oupa Hennie & Ouma Susan met die geboorte van julle dogtertjie/kleindogter Izelle op 2 April 2001.

- Juan Jacques en Hester Bredenkamp van Durbanville in die Kaap met die geboorte van hulle seuntjie Juan Jacques op 14 Augustus 2001.

- (a1b3c2d4e8f4g2h1) David Samuel Milne en Cathley Bredenkamp en Oupa David en Ouma Cornelia met die geboorte van hulle dogtertjie/kleindogter op 16 Augustus 2001.

- (A1b3c2d4e8f2g2h3) Christel nee Bredenkamp en Thomas Carsten en Oupa David en Ouma Cornelia met die geboorte van hulle dogtertjie/kleindogter op 16 Augustus 2001.

- (Die kleinneef en kleinniggie se twee dogtertjies is sowaar op dieselfde dag 16 Augustus gebore.)

Ook het ons verneem van die volgende Bredenkamp’s wat in huwelik getree het, mag die pad vir julle net rooskleurig wees en vreugde in hou.

- (a1b3c2d2e1f4g2h1i1) Henning Jacobus Bredenkamp gebore 4.8.1977 is getroud op Sizani Village, Bronkhorstspruit, op Saterdag 21.4.2001 met Melanie TEICH, beide is van Kemptonpark

Die Leed: Met leedwese het ons verneem van:

- Die afsterwe van Jan Boshoff Bredenkamp (a1b3c2d4e8f2g4) wat op sy plaas in die Vredefortdistrik op 1 September 2001 wreed aangerand is en later in die hospitaal op Vereeniging oorlede is.


- Die afsterwe van Maria Susanna Ferreira nee Bredenkamp (a1b3c2d4e8f7) gebore 26 Julie 1910 van Trompsburg wat op Maandag 8 Oktober 2001 in die ouderdom van 91 jaar oorlede is.

- Barend Johannes Jacobus (Bennie) Bredenkamp (a1b3c1d1e2f1g5h1i1) gebore 18.2.1951 van Kraaifontein in die Kaap wat op Maandagaand 30.4.2001 in die ouderdom van 50 jaar oorlede is.

Bogenoemde is al lief en leed waarvan ons kennisgeneem het, met ander woorde waaroor iemand met ‘n komiteelid geskakel het om die inligting deur te gee. Ons vra vriendelik: Laat weet ons asb. van lief en leed wat ons graag met mekaar deel!!

* ONS IS OP SOEK NA DIE OUDSTE LEWENDE GEBORE OF AANGETROUD-BREDENKAMP

Ons is bewus van die volgende persoon:

(a1b3c2d4e8f9) Federick Johannes 1914. Oom Frikkie, voorsitter van

die Bredenkamp Bond, het op 15 Oktober 87 jaar oud geword.

* STREEKSAAMTREKKE

- Neem asseblief net eers kennis dat die saamtrek vir die Kruger Wildtuin in 2002 gekanselleer is.

- Die komitee oordeel dat daar eers in 2002 baie entoesiastiese pogings moet wees van Bredenkamps wat mekaar in eie omgewings leer ken en ons is oortuig dat daar Bredenkamps en gebore-Bredenkamps is wat die ondernemings-gees het om dit te reël.

- Daarna sou ons behulpsaam wil wees vir diegene wat oordeel dat ‘n streeksaamtrek in hulle gebied lewensvatbaar is en graag so-iets wil reël.

Voorlopig oordeel die komitee dat ons ons navorsing en samestelling van die hoofstamboom teen 2003 afgehandel sal wil sien en dan;

- 2004/2005 ‘n Landswye saamstrek van Bredenkamps. Ons weet nog nie waar nie. In die omgewing van Caledon waar die Stamvader geboer het? Is daar ‘n beter saamtrekpunt? Ons plaas dit as ‘n blote visie en begeerte met vertroue in die hand van ons Hemelse Vader!

* TEN SLOTTE

- Eerstens ons versoek dat u met ons sal skakel: word ‘n medewerker en laat hoor van u. Vertel ons van u familiebesonderhede sodat ons die stamboom kan aanvul en tot by die jongste aankomelinge kan opdateer. Ons hoor ook graag van interessante plekke, gebeure ens. wat met ons familiegeskiedenis verband hou.

U kan Marthie Bredenkamp kontak by:

E-pos: bredenm@intekom.co.za

Posbus: Knysnalaan 282

Sinoville

Pretoria

0182

Telefoon/Faks: (012) 543 –0860

U kan ook skakel met:

Frikkie Bredenkamp Tel: (012) 440 2632

Pieter Bredenkamp Tel: (012) 547 4202

Hennie Bredenkamp Tel: (011) 701 3420

Thomas Bredenkamp Tel: (012) 329 2412

Gert Bredenkamp Tel: (011) 673 1542

- Tweedens het die Penningmeester dit op die hart gedruk dat ons fondse sal verwelkom - die komitee het uitgawes wat die huidige fonds dreineer - soos bv. die druk en verspreiding van die nuusbrief. Die rekeningbesonderhede is soos volg:

Bredenkamp Familiebond, ABSA Bank, Tak Sunnyside . Aktiewe Spaarplan, Rekening Nr: 90-7187-3122

- Laastens ons groet u van huis tot huis met die bede dat Hy wat ons hier geplant het, Sy genade en seën oor elkeen oorvloedig sal laat wees. In besonder bid ons u toe ‘n geseënde Kersfees en voorspoedige Nuwe Jaar toe. Mag u in dié feestyd opnuut belewe:

Vir ons is ‘n Seun gebore, aan ons is ‘n Seun gegee; Hy sal heers, en Hy sal genoemd word: Wonderbare Raadsman, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors (Jes 9:5).

Namens die Komitee: Dr. Pieter Bredenkamp

Voormalige Direteur van Onderwys

Baie dankie aan Marthie Bredenkamp van Pietersburg om die nuusbrief vir ons op rekenaar te sit.

Tweede uitgawe se druk en vespreiding is gereël deur Marthie Bredenkamp van Pretoria.

(Ja julle het reg gesien daar is twee van ons.)

http://www.geocities.com/bredenkamp_bond


( English available later )

- 2004/2005 ‘n Landswye saamstrek van Bredenkamps. Ons weet nog nie waar nie. In die omgewing van Caledon waar die Stamvader geboer het? Is daar ‘n beter saamtrekpunt? Ons plaas dit as ‘n blote visie en begeerte met vertroue in die hand van ons Hemelse Vader!

TUISBLAD | BREDENKAMP | NUUS | VERGADERINGS | ITEMS TE KOOP | FOTO GALLERY | LIDMAATSKAPVORM | ANDER VORMS | RESEPTE | AFSTERWES | BABAS | REUNIES | DUITSLAND | SPESIALE DAE | TEKEN GASTE BOEK | KONTAK ONS | Site Map


Back to content | Back to main menu