Main menu:
BREDENKAMP
Bredenkamp Familiebond - Wapen
Daar is besluit op 'n wapen en leuse. Baie dankie aan ieder en elk se deelname in die beslissing.
Hierdie is die geregistreerde bondswapen en die gekleurde gedeelte moet in alle persoonlike Bredenkamps-wapens voorkom, die blanko gedeelte bo word deur individue self voorgestel en bepaal. Daar is wetlike aspekte waaraan voldoen moes word en die voorgestelde wapen voldoen aan al die vereistes.
MEDE BREDENKAMPS
Ons is besig om ons geslagsregister op te stel wat terugdateer tot die jaar 1500 in Duitsland. Na vele soektogte plaaslik om vas te stel of ons geregistreerde wapens het, het Hennie Bredenkamp met die goedkeuring van die Bondslede na Duitsland vertrek om na 'n wapen te gaan soek. Sy opdrag was om te verseker dat ons alle detail van familie-wapens, gebiedswapens, stadwapens in die omgewing te bekom sodat ons verder daaraan kan werk. Ons was sowaar baie gelukkig om 'n wapen by 'n Bredenkamp familie in Duitsland te vind. Nie ‘n eeue oue koninklike of ridderlike wapen vol tierlanteintjies nie, maar ‘n eenvoudige toepaslike burgerlike wapen. Die enigste “offisiële” dokumentasie wat tot dusver opgespoor kon word is die wapen soos op 25.08.1936 bevestig aan Heinrich BREDENKAMP (Jnr.) deur die Duitse Regering se Reichsinnungsverband des Zimmerhandswerfs in Frankfurt.
Met 'n afskrif van die brief en goedkeuring van ons Duitse naamgenote is daar besluit om ‘n familie-bondswapen te laat registreer by die Departement van Heraldiek in Pretoria. Om‘n bondswapen te registreer, moes die familie Bredenkamp in Suid-Afrika 'n konsensus daaroor bereik.
Ons kan nou met trots aankondig dat met die hulp en raad van die Assistent Staatsheraldikus Marcel van Rossum het ons ‘n tegnies verantwoordbare (binne die betrokke wetlike bepalings) wapen saamgestel het wat nou geregistreer is.
Verduideliking van die wapen se samestelling, is soos volg en sal ook so in ons beplande boek verskyn.
BREDENKAMP FAMILIEBONDS-WAPEN
In die eerste 8 eeue n.C. het die Europiërs slegs ‘n enkele naam gehad. Teen die negende eeu is vanne bygevoeg om hulle van mekaar te onderskei. Aanvanklik was dit net die adellikes wat byname of vanne gehad het tot in die vyftiende eeu dat gewone mense in die suidwestelike deel van Europa begin het om vanne aan te neem. Later het dié gebruik na Noord-Europa versprei. Dit wil dus voorkom of die kanse gering is dat ‘n mens jou familie geskiedenis en stamboom nie verder terug as die 15de eeu sal kan navors nie. Dit is veral moeilik om die boerestand in Noord-Europa verder terug as die 17de eeu na te vors (Du Preez, 1978).
Verskillende spellings van die van bestaan, naamlik Bredenkamp, Bredekamp, Breedenkamp, Breitenkamp env. Die betekenis van die Breitenkamp is, in Duits, ‘n pleknaam wat beteken “breë veld” (kamp of kampus).
DIE B
B horisontaal (soos twee piramides) in die boonste gedeelte. Die B is in goud op ‘n blou agtergrond en pas pragtig aan by ons blou hemelruim (Uit die blou van onse hemel)
DIE AKKERS
Ons voorgestelde basiese Familiebond wapen is ontwerp met die verbintenis met Quernheim as basis - die drie akker embleem wat so goed inpas by ons Suid-Afrikaanse oorsprong tussen die eikebome van Tulbagh en Caledon. Die drie akkers versinnebeeld ook die Drie Eenheid en Groei. Ons glo dat dit die beskikking van die Drie enige God is wat die Bredenkamps met ‘n roeping hier aan die suidpunt van Afrika gevestig en laat groei het.
AGTERGROND
Wit: breë (BREDEN) wit veld (KAMP) in die onderste gedeelte.
SLAGSPREUK
Daar is ook ‘n “scroll” of voetskrif onderaan aangebring word wat ‘n leuse kan aandui. Geen van is toelaatbaar nie, maar kan as opskrif apart aangetoon word. Die bewoording van ‘n leuse of slagspreuk is soos volg:
AFRIKAANS: GELOOF HOOP LIEFDE
ENGELS: FAITH HOPE LOVE
DUITS: GLAUBEN HOFFNUNG LIEBE
Die Familiebond-wapen is dus die wapen wat gebruik sal word deur individue wat daarop aanspraak kan maak dat hulle lede van die Bond is en die wapen sal byvoorbeeld op hulle nuusbriewe en webwerwe env. voorkom.
Saamgestel deur Marthie Bredenkamp 17/12/2002